12 Februarie - Jaarlikse Biddag vir Opvoeding en Onderwys
Beheerliggaamverkiesing 2012
Skoolbeheer in Suid-Afrika is taamlik uniek in dié opsig dat ouers van regsweë meer inspraak het in die onderwys van hulle kinders as in verreweg die meeste wêreldlande.
Die grondslag vir hierdie unieke toedrag van sake is reeds in 1995 in Witskrif 1 oor die nuwe onderwysbedeling gelê. Op bladsy 21 van die Witskrif verskyn die volgende grondliggende beginsel oor ouerbetrokkenheid in die opvoeding van ons kinders:
“Ouers of voogde dra die primêre verantwoordelikheid vir die onderwys aan hulle kinders, en het die reg om deur die staatsowerhede geraadpleeg te word oor die vorm wat onderwys moet aanneem en om deel te neem aan die beheer daarvan. Ouers het ‘n onvervreembare reg op keuse van die vorm van onderwys wat vir hulle kinders die beste is, veral in die vroeë jare van skoolonderwys, ongeag of dit deur die staat voorsien word, onderhewig aan redelike waarborge wat by wet vereis kan word. Die ouers se reg om te kies omvat die keuse van die taal en die kulturele of godsdienstige grondslag van die kind se onderwys, met inagneming van die regte van ander en die groeiende kind se reg om te kies.”
Hierdie beginsel is uiteindelik in die Suid-Afrikaanse Skolewet opgeneem. Beheerliggame van openbare skole is kragtens hierdie wet sodanig saamgestel dat ouers op die beheerliggaam altyd in die meerderheid moet wees. Op hierdie wyse het ouers dus wesenlike inspraak in die sake van die skool. Die beheerliggaam bepaal uiteindelik die etos, beleid en algemene rigting van die skool. Dit is ‘n baie verantwoordelike taak wat kundigheid, toewyding en geesdrif verg.
Die Skolewet bepaal ook dat beheerliggame se termyn beperk is tot drie jaar, maar die lede is herkiesbaar, mits hulle natuurlik steeds ouers van leerders in die skool is.
FEDSAS het daarin geslaag om die Onderwysdepartement te oortuig dat hierdie verkiesings landwyd in dieselfde tydperk gehou moet word. Vantevore het elke provinsie self besluit wanneer die verkiesings in daardie provinsie gehou moet word en dit het tot heelwat verwarring aanleiding gegee.
Vanjaar vind die verkiesings regdeur Suid-Afrika in Maart plaas. Getalsgewys is dit die grootste verkiesing in die land met sowat 300 000 mense wat op beheerliggame verkies moet word – die meeste daarvan natuurlik ouers.
Ten einde ‘n wettige verkiesing te hê, skryf die verkiesingsregulasies voor dat minstens 15% van die skool se ouers tydens sodanige verkiesing moet stem. As die kworum nie behaal word nie, word die verkiesing uitgestel en by die uitgestelde verkiesing geld geen kworumvereiste nie.
Dit het al by skole gebeur dat die kworumvereiste nie behaal word nie en dat ‘n klein groepie ouers hulself sodanig organiseer dat hulle hulself dan by die uitgestelde verkiesing tot die beheerliggaam verkies kry. Daardeur kry hulle dan die geleentheid om die totale etos, kultuur of rigting van die skool te verander. Dit het katastrofale gevolge vir daardie skole gehad, want politieke of ander agendas wat niks met die gehalte van opvoeding van kinders verband het nie, vier dan hoogty.
FEDSAS doen ‘n ernstige beroep op ouers wat die beste belang van hulle kinders en van hulle kinders se skool en opvoeding op die hart het, om hulself vanjaar verkiesbaar te stel as lede van beheerliggame. Ouers moet ook in groot getalle gaan stem, sodat die kworumvereiste behaal kan word en die beste beskikbare kandidate tot hulle skole se beheerliggame verkies word.
Paul Colditz
Uitvoerende hoof: FEDSAS
25 Januarie 2012
- Login to post comments
- Kalender
- Printer-friendly version
- Send to friend
