Huis Groenewald
Mondeor Gemeente is reeds 'n hele aantal jare betrokke by die kinders van Abraham Kriel Kinderhuis. Op die kampus van die kinderhuis word die kinders geplaas in groepe onder die toesig en sorg van huis-ouers. Hulle woon dan saam in 'n huis op die kampus.
Die gedagte is dan dat gemeentes of groepe gemeentes verantwoordelikheid neem vir die ondersteuning van die kinders in daardie huise en vir die instandhouding van die huis self. Mondeor gemeente het tans eienaarskap geneem van die Huis Groenewald waar daar tans 13 dogters versorg word.
Die voorlopers in die bediening hier is veral Kobus en Mercia Burger en Armas en Christine Ferreira. Hulle doen kosbare werk daar en vele gemeentelede is betrokke deur skenkings van fondse, klere, ensovoorts.
Daar is egter 'n behoefte daaraan dat meer lidmate nouer hierby betrokke sal raak.
Beddegoed vir die kamers van Huis Groenewald
In antwoord op die versoek wat Lede van die kommissie gedurende ? Erediens aan die gemeente gerig het, is daar beddegoed vir elke kamer van Huis Groenewald voorsien, Ons is baie dankbaar vir die hulp.
Naweek-ouers vir die kinders
Daar bestaan wesenlike behoefte daaraan dat gesinne in die Gemeente na vore sal kom wat bereid sal wees om van die kinders uit te neem of daar te gaan kuier. Christine Ferreira en Mercia Burger onderneem gereeld besoeke daarheen byvoorbeeld op 'n Vrydag middag. Gemeentelede word genooi om saam te gaan en ook om eetgoed te voorsien vir sulke geleenthede.
Daar is egter ook 'n verlangende behoefte by die kinders om nouer bande met gesonde gesinne op te bou om ook te leer hoe so 'n gesin lyk en hoe om eendag self ook in 'n gelukkige gesin te kan wees.
Ons dank die Here vir die geleentheid tot hierdie bediening en vir diegene wat daarby betrokke is. Ons wens ook die huisouers voorspoed toe.
- Printer-friendly version
- Login to post comments
- Send to friend
